Polisie, Medisynebeheerraad konfiskeer verslankingsmiddels
Die polisie en die Medisynebeheerraad (MBR) het gister in Pretoria op verslankingsmiddels beslag gelê.
Lede van die MBR se medisynemisdaad-inspektoraat en die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad het opgetree teen die verspreiders van verslankingsmiddels wat die voorskrifmiddel sibutramien onwettig bevat.
’n Paar sakke vol Nu-Evo-kapsules en onder meer kruietee is uit ’n huis in Waterkloof, Pretoria, gedra van waar dié produk versprei word.
Toetse wat vandeesmaand by Pharmaworx in Midrand gedoen is op verskeie besendings verslankingsmiddels waarop die MBR vroeër beslag gelê het, het getoon daar is onderskeidelik sowat 26mg en 2mg sibutramien in twee besendings Nu-Evo.
Dié bestanddeel is ook gevind in kapsules wat met die handelsmerke Simply Slim, Forme Slim en HNS New Me gemerk is.
Sibutramien kom in geregistreerde verslankingsmedisyne soos Reductil (10mg en 15mg) voor en mag glad nie in aanvullende of kruiemiddels wees nie.
Mnr. Johan Smuts, regsverteenwoordiger van One Way Direct, die Nu-Evo-verspreider, het gister gesê dié verspreider het onderneem om met die MBR saam te werk terwyl die ondersoek aan die gang is. Verspreiding aan agente word intussen gestaak.
Minstens drie laboratoriums in Pretoria, Midrand en Kaapstad het tot 27mg sibutramien gekry in verskillende besendings Simply Slim wat die publiek van Simply Slim-agente gekoop het.
Simply Slim beweer sy produk word vervals, maar het nie die afgelope week op medianavrae gereageer nie.
Mnr. Justin Adriaanse, Simply Slim se uitvoerende hoof, en mnr. Lance Rothschild, mediawoordvoerder, het verlede week aan Beeld gesê hulle weet nie wat die fabriek in China se naam is waar Simply Slim gemaak word nie en hulle het nog geen kliniese proefnemings gesien wat die doeltreffendheid en veiligheid daarvan bewys nie.
Simply Slim beantwoord ook nie navrae oor die akkreditasie-stempels op sy webwerf nie.
Volgens dr. Howard Jeffrey van die maatskappy SGS in Brittanje verwys die SGS-merk op die webwerf na ’n standaard (ISO9002) wat al etlike jare in onbruik is.
Daar is ook ’n NQA-merk wat na ISO9001 verwys, maar NQA in Suid-Afrika het gesê hy het Simply Slim nie gesertifiseer nie. NQA in China, waar Simply Slim gemaak word, het aan sy kantoor in Suid-Afrika gesê hy het nié Simply Slim gesertifiseer nie.
Daar is ook ’n UKAS-akkreditasiemerk op Simply Slim se webwerf, maar dié merk kan net instellings akkrediteer. UKAS akkrediteer NQA en SGS.
Antoinette Pienaar – Beeld