Simply Slim: Dis op jóú risiko
Lede van die publiek wat aanhou om Simply Slim-verslankingskapsules by agente oor die land heen te koop, doen dit op eie risiko.
So het me. Mandisa Hela, registrateur van die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR), gister gesê nadat lede van die publiek aan Beeld gesê het die produk word steeds te koop aangebied, veral op die internet.
Hela het gesê die verklaring waarin die MBR Vrydag Simply Slim-verkope opgeskort het, was juis bedoel om die publiek te waarsku.
Simply Slim het ná die uitreiking van die MBR-verklaring agente gevra om hul voorraad na hul hoofkantoor in Brooklyn, Pretoria, terug te stuur en hulle gevra om verkope te staak.
Mnr. Lance Rothschild, woordvoerder van Simply Slim, het vandeesweek aan Beeld gesê die produk is bloot herroep, maar Hela het dit beklemtoon dat alle verkope “opgeskort” is totdat Simply Slim die veiligheid en doeltreffendheid van sy produk kan bewys.
Die MBR vereis ook dat Simply Slim eers as medisyne geregistreer word nadat sy inspekteurs in ’n onafhanklike ondersoek die voorskrifmiddel sibutramien daarin gekry het.
Volgens Rothschild volstaan Simply Slim daarby dat sy produk, ’n 100%-kruiemiddel, vervals word, maar Hela het gesê die onus is op Simply Slim om dit te bewys.
Hela het gesê as Simply Slim se eienaars besluit om weer ’n produk as aanvullende medisyne, soos na bewering die geval is, bekend te stel, sal dit moeilik wees om dit te beheer.
Daar is geen regulasies om aanvullende medisyne te reguleer nie en die MBR kan dus geen sulke middels registreer nie.
Die MBR het in 2002 ingevolge ’n ouditkennisgewing gevra dat inligting oor alle aanvullende medisyne aan hom voorgelê word met die oog op registrasie in die toekoms.
Minstens 20?000 aanvullende middels is glo ingevolge dié kennisgewing voorgelê, maar benewens die afwesigheid van regulasies, het die MBR glo ook nie die mannekrag om dit te evalueer nie. Die verspreiders voldoen egter aan wetsvereistes om hul produkte op die mark te hê.
“Ons werk nog daaraan (die regulasies) en hoop om binne maande weer ’n dokument beskikbaar te stel vir kommentaar.
“Intussen maak ons staat op die publiek om ons te verwittig van klagtes oor alle aanvullende medisyne.”
Volgens Hela is die plan om al dié middels behoorlik te evalueer vir veiligheid en doeltreffendheid. Sy vermoed “daar sal oorlog wees” wanneer die MBR se regulasies deurgevoer word, “want dit is ’n baie winsgewende bedryf”.
“Verslankingsprodukte is veral problematies omdat vroue so kwesbaar is wanneer dit kom by gewigkwessies.”
)?Sy het gesê lede van die publiek wat klagtes het, kan intussen die MBR se inspektoraat wat medisynemisdaad ondersoek, per faks by 012 312 0424 kontak.
Antoinette Pienaar – Beeld
Ek het gehoor in Januarie dat daar ‘n verskaffer gese het dat die pille nie goed genoeg werk nie en hul, hul eie wil produseer met ‘n eetlusdemper in.
Hi Johan,Sjoe jy het behoorlik my nou aan die bewe, ek het SS die afgelope maand gebruik het darem geen newe effekte gehad nie, maar ek het ‘n gewoonte om te altyd die kapsule oop te maak, my eerste besending was ‘n wit poeier en my twee besending wat ek gister begin gebruik het is ‘n bruin poeier, ek het die apteek dadelik gebel en gevra hoekom die verskil, die dame het my aangeraai om asseblief glad nie die produk verder moet gebruik nie, veral nie die bruin poeier produk nie, hy bevat die Sibutramine. Dankie vir die website wat jy gestig het om ons in kennis te stel wat aan die gang is, ek het op hulle website ingegaan gister en daar was niks inligting wat my kon help verstaan wat aan die gang is nie, – ek bedoel daar is mense wat nie eers internet fasiliteite het nie. En ek, lees regtig nie eers ‘n koerant nie, maar sal nou op die uitkyk wees vir enige nuus op hierdie produk. THANX