Al die Simply Slim-kapsules wat aan die mark onttrek word, moet vernietig word.
Mnr. Lance Rothschild, mediawoordvoerder van Simply Slim, het gister gesê al die voorraad wat agente en die publiek aan Simply Slim se hoofkantoor in Brooklyn, Pretoria, terugstuur, sal waarskynlik ingevolge die vereistes van die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) verbrand word.
Dit is nog nie bekend of Simply Slim die agente of verbruikers sal terugbetaal vir die kapsules wat ingedien word nie.
Dié verslankingsmiddel word in opdrag van die MBR onttrek nadat sy inspektoraat wat medisynemisdaad ondersoek, beslag gelê het op kapsules wat positief getoets is vir die voorskrifverslankingsmiddel sibutramien.
Die newe-effekte van sibutramien sluit kardiovaskulêre simptome soos hartkloppings, hoë bloeddruk en asemnood in.
Maksimum dosisse van 15?mg per dag mag net onder dokterstoesig gebruik word, maar laboratoriumtoetse het tot 27?mg sibutramien in sekere Simply Slim-kapsules gekry, al word die produk as ’n 100%-kruiemiddel bemark en is dit nie as medisyne by die MBR geregistreer nie.
Die middel moet veiligheid- en doeltreffendheidstudies slaag en as medisyne geregistreer word voordat dit verkoop word.
Antoinette Pienaar – Beeld
