Simply Slim Toe Nie Bloot ’n Kruiemiddel, Wys Verslag [Beeld]

Antoinette Pienaar

Die Kaapse laboratorium wat met die jongste laboratoriumtegnieke 27 mg van die voorskrifmiddel sibutramien in kapsules met die Simply Slim-handelsmerk gekry het, het gister sy inligting aan Beeld beskikbaar gestel.

Dr. George van der Watt, chemiese patoloog by die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Mowbray, Kaapstad, het reeds in November verlede jaar toetse op die middel gedoen wat veronderstel is om uit 100% kruie te bestaan.

Van der Watt het gister gesê hy het vandeesweek toestemming gekry van sy werkgewer, die Universiteit van Kaapstad, en die staat se nasionale gesondheidslaboratoriumdiens om sy verslag bekend te maak.

Sibutramien mag net tot ’n maksimum van 15 mg in geregistreerde voorskrifverslankingsmedisyne soos Reductil voorkom en glad nie in aanvullende medisyne, oftewel kruiemiddels nie.

Verslankers is veronderstel om dit net op doktersvoorskrif onder mediese toesig te neem weens die risiko van kardiovaskulêre newe-effekte by sommige mense.

Van der Watt het in September verlede jaar ’n kapsule met die Simply Slim-handelsmerk by ’n vriend gekry wat vertel het hoe goed dit werk. “Ek het een gesluk en onmiddellik besef dit was nie bloot ’n kruiemiddel nie weens die effek, onder meer aptytonderdrukking, verhoogde bewustheid, hartkloppings, ’n droë mond en slapeloosheid.”

Van der Watt het ook uitgevind dat die Amerikaanse kos- en-medisyne-owerheid (FDA) sowat ’n jaar gelede teen 69 verslankingsmiddels gewaarsku het omdat dit onwettige bestanddele soos sibutramien bevat het.

Hy het self ’n dosie kapsules by ’n Simply Slim-subagent gaan koop en getoets.

Luidens die finale verslag, wat in Beeld se besit is, is 27 mg sibutramien gekry in ’n dosie met die besendingsnommer 20090421 en strepieskode 6009800148169.

Van der Watt het gister aan Beeld gesê sy werk was heeltemal onafhanklik.

Me. Monique Heydenrych, ’n voormalige subagent, erken sy het ’n produk aan Van der Watt verkoop en sê haar voorraad het destyds gekom van me. Michelle Strydom, ’n agent in die Wes-Kaap. Na Heydenrych se wete was dit die ware Jakob.

Simply Slim hou vol sy produk word vervals.

Mnr. Lance Rothschild, mediawoordvoerder van Simply Slim, het in e-pos beweer elke besending Simply Slim word deur die SABS en ’n onafhanklike laboratorium in die VSA getoets.

Hy het beweer die “vervalste” produkte is buite hul beheer, Simply Slim is besig om sy veiligheidsmaatreëls te verbeter en het sy eie ondersoek na die vervalsing begin.

Mnr. Justin Adriaanse, uitvoerende hoof van Simply Slim, het vroeër gesê sowat 250 000 dosies Simply Slim is reeds vir sowat R80 miljoen verkoop.

Beeld verneem by agente hulle koop dit vir tot R350, herverkoop dit soms aan subagente en die publiek betaal R590.

- Beeld

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>